Onthou, ons skryf net wat gebeur
Mon 23 Aug 2010, 10:49 0 Comment(s) Report AbuseDit is vir my verstommend hoe mense tekere kan gaan wanneer die media oor hulle, of die instansie waaby hulle betrokke is, skryf. Sensasioneel is gewoonlik die gunsteling-beskuldiging waarmee jy gegooi word. Só lees ek gister ene Coreen se brief in Volksblad .
Haar laaste sin het my so ’n kramp gegee dat ek nie anders kan as om almal wat altyd iets oor die media te sê het, se geheue te verfris nie. Haar sin lui: “ . . . negatiewe blootstelling wat ons universiteit in veral Volksblad kry”.
Die media maak nie stories op nie. Ons sit nie voor ons rekenaars en dink: Hoe gaan ek die Universiteit van die Vrystaat negatief laat lyk nie.
Ons skryf wat gebeur. Ek het die afgelope maand berig oor wat by die UV gebeur het. Eers die Villa-video en toe die intervarsity-gemors. En ek kon dit baie sensasioneel geskryf het. Ek kon die video só geskryf het dat dit ’n rassevideo geword het.
Dit was egter ’n ontgroeningsvideo, en dis hoe die berigte geskryf is.
Die intervarsity-chaos kon heerlik uit verband geruk word, ter wille van verkope. Maar ons is verantwoordelik. Die punt is, dit het gebeur. As die UV nie negatiewe dinge in die koerant wil lees nie, maak seker dat daar nie negatiewe dinge gebeur nie. En indien dit gebeur, hanteer dit. Agt uit die tien keer wanneer die UV genader word vir kommentaar, wil hulle nie kommentaar lewer nie. Dit laat die UV nóg slegter lyk.
Die rektor, prof. Jonathan Jansen, maak wilde uitsprake, soos: Julius Malema is slimmer as sy professors. Of hy haal die Noordwes-universiteit uit in sy D.F. Malherbe-gedenklesing. Ons gaan daaroor skryf. Dit is nuuswaardig. Nou word Volksblad uitgekryt as die vark in die verhaal.
Het Volksblad in Jansen se oor gaan fluister wat hy moet sê? Natuurlik nie. Hy moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat by sy mond uit kom, net soos Volksblad se redakteur verantwoordelikheid aanvaar vir wat in die koerant geskryf staan.
Hierdie les in Joernalistiek for dummies geld elke leser, openbare figuur en woordvoerder in die land. As julle nie “negatiewe” dinge oor julself of jul instelling in die koerant wil lees nie, sorg self daarvoor. Ons skryf wat gebeur. Ons dink nie die nuus uit nie.
Pieter Steyn, Volksblad-verslaggewer
Leave a comment on this post...
Topics: media
Ek vergewe jou, maar bly liefhê
Mon 16 Aug 2010, 15:10 2 Comment(s) Report AbuseMA, ek wil ’n freedom fighter wees. Ek wil struggle soos Madiba, Oliver Tambo, Albert Luthuli en Walter Sisulu.
Hoekom, my dierbare kind? Verwoerd is dood en apartheid verby.
Onthou net hoe wonderlik dit was met die Wêreldbeker-sokkertoernooi toe Suid-Afrikaners verenig was en bankvas agter Bafana Bafana gestaan het. Anders as ek en jou pa, het jy die geleentheid gekry om aan ’n universiteit te studeer. Die struggle is verby.
Nee ma, dit is nie. Die universiteit se strukture en bestuur is rassisties. Wit kinders word steeds bevoordeel. Ons mense word nie in sekere aktiwiteite ingesluit nie en staan tweede in die ry as dit by beurse kom.
Seun, jy het dan ’n beurs by die universiteit gekry. Nie dat dit nou veel beteken nie. Ná jou en jou sogenaamde kamerade se manewales verlede naweek is jy die kampus verbied. Jy kon so ’n mooi toekoms vir jouself geskep het. Ek en jou pa is baie teleurgesteld.
Ons het nie ’n ander keuse gehad as om te struggle nie. Hulle wou nie na ons griewe luister nie. Hoe kan ons studente van ’n rassistiese universiteit op ons kampus toelaat. Asof dit nie genoeg is dat van my mense weens die apartheidsregering nie nou vir ’n taxi-rit of hul registrasie- en klasgelde kan betaal nie.
My liefste seun, dalk moes jy dieselfde ywer waarmee jy politieke kwessies aanpak, in jou studies geopenbaar het. Dit is tog hoekom jy universiteit toe gegaan het. Kennis is jou kosbaarste besitting in die grootmenswêreld. Dink jy om geskors te word was die moeite werd?
Moeder, die struggle gaan voort. Ons moet baklei teen die onderdrukking van ons mense.
Seun, ek hou die koerante dop en lees nie van die sogenaamde vreeslike onderdrukking nie.
Ma, ek wil niks weet van die media nie. Kyk net hoe lelik praat hulle van ons leiers Jacob Zuma en Julius Malema. Hulle moet verbied word om hul monde oor ons getroue kamerade en freedom fighters uit te spoel. Niemand het die reg om ons revolusionêre party ’n pak slae te gee nie.
Ek vergewe jou my kind, want jy weet nie wat jy sê nie. En ma bly lief vir haar seuntjie.
Vicus Bürger, Volksblad-verslaggewer
Leave a comment on this post...
Topics: struggle
‘As ek in die aand na die sterre kyk’
Fri 6 Aug 2010, 10:21 1 Comment(s) Report AbuseEK was die grootste kerkganger op Glencoe, die klein dorpie in KwaZulu-Natal waar ek grootgeword het. Ek was die truprojektor-operateur. Met elke begrafnis, pinksterdiens, dankiesê-vir-die-basaar-diens en Hemelvaartdiens was ek in die kerk. As daar twee of drie gemeentelede in die kerk bymekaar gekom het, was ek daar.
Dit het tot gevolg gehad dat ek al wat Liedboektreffer se woorde uit my kop geken het. In my st. 9-jaar sit ek weer op my pos, heel voor in die kerk. Die orrel trek los en ek gooi die transparant op die projektor. “As ek in die aand na die sterre kyk, en die geure van die blomme ruik . . .”
Dit is die April-vakansie en my kys van daai tyd kamp saam met haar gesin by Chelmsforddam, so 60 km van onse dorp. Die verlange pak my.
Daar, in die kerk, terwyl ons die romantiese Halleluja-treffer aanhef. Ek vergeet om die transparant op te skuif. ’n Iesegrimmige oom wat die plaaslike meule bedryf, stap tot voor by my en klop my op die skouer. Hy ken nie die woorde van die tweede vers nie. Ek skuif die ding op.
Ek oorleef, deur die genade, die diens en nadat ek my deurkollekte (vir sending) ingegooi het, lig ek my vriend, Pierre, in oor my plan. “Ons ry Chelmsford toe oor ’n uur. Met fietse.”
Hy stry maar ek steur my nie. My ma’le mag nie weet nie. Vir hulle, Sabbatdag ten spyt, lieg ek en sê ek gaan saam met Pierre by sy ouma op Dannhauser kuier. Elfuur val ons in die pad. Ek koop die eerste keer in my lewe ’n Red Bull. Ons begin trap. Dit gaan swaar. Jy moet jou sit ken as daar ’n lorrie verby ry.
By Sunset Rest, stap ek die kroeg in. Twee Cokes later en ons val weer in die pad. Die nooi weet nie ek kom nie. Vier uur nadat ons begin trap het, kom ons by Chelmsford se hek aan.
Toegang is R40 per persoon bo 12. Nie ek of Pierre het geld nie.
“Bel haar en sê sy moet ons by die hek kom haal,” sê Pierre afgemete. Toe die volgende skok. Ek het nie airtime nie. Ek stuur ’n Please Call Me. Sy stuur een terug. Daai tyd het ons vir mekaar dit gestuur om te sê ek dink aan jou. Ek stuur weer. Sy stuur terug.
Ek wil ween. Pierre bestyg sy fiets. “Kom,” sê hy. Ek begin sag fluit: “As ek in die aand na die sterre kyk . . .”
Pieter Steyn
Volksblad-verslaggewer
Leave a comment on this post...
Topics:
Dis nogsteeds hier
Wed 30 Jun 2010, 12:33 0 Comment(s) Report AbuseTerwyl die land gons oor die wêreldbeker gaan die lewe maar net oudergewoonte aan op die platteland.
Die boere en plaaswerkers stroop, die polisie ondersoek die alewige sake van veediefstal, gewapende rooftogte en aanrandings en ons paar verslaggewers hier moet net tred hou met die gewone probleme wat partymaal nie eers meer nuuswaardig voel nie.
Behalwe vir die talle vlae wat die plaaslike Dihlabeng-munisipaliteit ten duurste teen die lamppale opgesit het, ‘n sporadiese vuvuzela-knal, en ‘n paar verbygaande toeriste voel ons hier op Bethlehem nie rerig dat “dit hier is nie”.
Om die minste te sê al waar die gebeurtenis werklik voel is in die aande by die plaaslike kuierplek op die dorp waar mense in die koue met serpe omhul is en liters draughts opdrink.
Die kroeë is die enigste plek hier waar daar vir ons mense ‘n bietjie opwinding is.
Dit is al waar ons sover onder andere die Japanese en Engelse se trane kon sien vloei en waar almal uitroep as hul span ‘n doel kry. Almal moes mos nou maar ná Bafana se nederlaag hul oë op ander spanne begin rig.
Die Oos-Vrystaters hoop wel soos almal dat terwyl die wêreld se oë op ons land is, die geleentheid vrugte gaan afwerp.
Ons hoop dat ons ook in die toekoms by die miljarde wat spandeer is gaan baat.
Dis moeilik om positief noudat Bafana uit die toernooi is, dat meer as die helfde van die die Mexikane wat hier moes bly nie opgedaag het nie en boonop dat een van hulle nog in ‘n gastehuis van meer as R12000 se goedere (asook haar wêreldbekerkaartjies) beroof is.
Miskien as ek in ‘n stad was sou ek meer opgeruimd gevoel het. Miskien as ek die moeite gedoen het om ‘n wedstryd te gaan kyk en ‘n groen en goud hemp vir die Football Fridays gekoop het.
Maar als gaan net aan hier op die platteland.
Die armes hier word steeds armer, ondernemings het min geld om te adverteer en ons paaie is steeds ‘n gemors.
Dit blyk die wêreldbeker het tot dusver net die stede ontwikkel.
Ek moet wel erken dat dit nog nie verby is nie.
Ek kan nog ‘n hemp koop.
Ek kan nog ‘n wedstryd bywoon.
Ek kan nog leer hoe om ‘n vuvuzela soos ‘n trompet te blaas.
Dit is nog “hier”.
Ek moet net uitkom waar ek dit kan voel.
Jana van der Merwe
Volksblad-verslaggewer: Bethlehem
Leave a comment on this post...
Topics: wêreldbeker-sokkertoernooi
Wat gaan aan in die gesondheidsorg?
Thu 24 Jun 2010, 15:12 1 Comment(s) Report AbuseDie afgelope tyd is ons oorval met stories oor swak standaarde en probleme in hospitale in die Vrystaat en Noord-Kaap.
Die hartseer geval van Cailleigh Potgieter wat onder vreemde omstandighede oorlede is in die Bloemfontein-Medi-Clinic het veroorsaak dat talle mense oor en oor na ons kantore gebel het om te hoor wat gebeur het.
Die tipe ding gryp mense aan omdat ons almal soms siek word - wat as jy in die hospitaal land en daar is swak of geen diens. Ons is almal weerbaar en as mense onnodig sterf kom almal in opstand.
Dit wil blyk asof dit ook nie net in staatsinstansies `n probleem is nie maar ook by private hospitale. Cathy Dlodlo berig in Volksblad dat die probleem in `n groot mate toegeskryf word aan `n gebrek aan gekwalifiseerde personeel, veral verpleegsters.
Talle susters, verpleegsters en dokters gaan ook landuit oor swak salarisse en haglike werksomstandighede en uiteindelik sit die belastingbetaler met die resultaat.
So wat is die oplossings? En is die staat bewus van die probleem en bereid om iets daaraan te doen? `n Mens hoop so - my of jou lewe kan dalk daarvan afhang.
Corli van der Merwe
Volksblad-webredakteur
Leave a comment on this post...
Topics: gesondheidsorg
User Profile
VB: Nuus
| Gender: | Female |
|
Send Message |
| City: | Bloemfontein | ![]() |
Add to friends |
| Country: | South Africa | ![]() |
Block user |
Stats
Afrigator Rank
| Views: | 18100 |
| Comment(s): | 29 |
| Rating: |
| Get in-depth stats on your blog and see where you rank on 24.com and in the whole of SA. Click here to activate. |
Subscribe to this blog
Subscribe to email updates from this blog
|
|
Subscribe to RSS updates from this blog |
Invite
You have 0 subscriber(s)
Badges
- Onthou, ons skryf ...2010/08/23 10:49:24 AM
- Ek vergewe jou, ma...2010/08/16 03:10:40 PM
- ‘As ek in die aand...2010/08/06 10:21:05 AM
- Dis nogsteeds hier2010/06/30 12:33:15 PM
- Wat gaan aan in di...2010/06/24 03:12:16 PM


